Die konsep van Steriele Insek Tegniek

Die steriele insek tegniek (SIT) is onteenseglik die mees ekologies-versoenbare metode van plaagbeheer wat daar bestaan. Dit is nie ‘n losstaande tegniek nie, maar moet met ander plaagbestuur tegnologie geintegreer word, soos lokaastoediening en sanitasie, in ‘n gebiedswye program.

SIT is, eenvoudig gestel, geboortebeperking vir insekte. Dit word hoofsaaklik gebruik om insekplae, gewoonlik oes (gewas) plae of mens- en dier-plae te beheer of uit te roei. Die teiken-insekte word in groot getalle geteel, en die mannetjies word gesteriliseer gewoonlik deur gammabestraling. Die steriele mannetjies word weekliks in hoë getalle in die teikengebiede losgelaat, gewoonlik regdeur die jaar. Hulle paar met die wilde wyfies wat gevolglik onvrugbare eiers lë, en indien sekere ander populasie-bestuursaktiwiteite behoorlik uitgevoer word, behoort die wilde vlieg populasie vinnig te daal.

Losgelate steriele mannetjies kompeteer met die wilde mannetjies om met die wyfies te paar. ‘n Hoë verhoudingsgetal steriele mannetjies teenoor die wilde mannetjies word derhalwe benodig. ‘n Kern vereiste van SIT is dus dat die steriele mannetjies in gebiede losgelaat word waar die wilde vlieg populasie voorheen na baie lae vlakke verlaag is As dit nie gedoen word nie, sal daar te veel wilde mannetjies met die wilde wyfies paar, en die populasie sal nie daal nie. Daling van die wilde vlieg populasie na lae vlakke voordat steriele loslatings begin, is dus noodsaaklik.

Vervolgens:

  • Dit is ‘n bewese tegniek wat in verskeie ander lande toegepas word om vrugtevliegvrye of lae-voorkomsgebiede te skep en kan baie koste-doeltreffend wees.
  • Dit is ‘n gebiedswye tegniek – dit moet oor groot gebiede toegepas word, b.v. 500 ha en groter.
  • SIT is hoogs omgewingsvriendelik, en derhalwe besonder aanvaarbaar vir uitvoermarkte wat toenemend fokus op ekologies-versoenbare verbouingstegnieke.
  • Afhangend van die grootte van die gebied onder SIT en ander faktore, is daar verskeie opsies vir loslating van steriele vrugtevlieë, wat ‘n gunstige impak kan hë op die koste-doeltreffendheid van SIT.
  • SIT is hulpbron-en bestuursintensief.