FAQ

1. Wat is die “basics” ?

Medvlieg is een van die wêreld se mees vernielsugtige landbouplae. Die wyfievlieg (en nie die mannetjie nie) val rypwordende vrugte aan ten einde haar eiers te lê. Die wyfievlieg kan meer as 300 kommersiële sowel as wilde gashere infesteer en kan in haar leeftyd sowat 400 + eiers produseer.

2. Wat is die lewensiklus?

a. Die volwasse wyfie lê haar eiers net onder die vel van vrugte;
b. Die eiers ontwikkel in larwes;
c. Die larwes voed binne in die vrug en val na die grond wanneer volwasse (dit geskied na die 3de instar);
d. Larwes tonnel in die grond in en verander na papies;
e. Die vlieg ontwikkel binne in die papie en verlaat die papie wanneer volwasse;
f. Afhangende van die klimaat (temperatuur is die belangrikste) kan volwasse vlieë binne 30 dae sy lewensiklus voltooi, maar onder koue en ongunstige toestande kan dit tot 2 maande en langer duur.

3. Wat is die geskiedenis van die plaag?

Die Medvlieg kom uit Afrika en het regdeur die Mediterreense lande, Suid-Europa, die Middel-Ooste, Wes-Australië, Suid- en Sentraal Amerika en Hawaii versprei.

4. Hoe kan ons dit beheer of uitroei?

a. Die bewese metode is deur gebruik te maak van die beginsels van Geïntegreerde Plaagbeheer (IPM):
i. monitering van die teikengebied word gedoen om vas te stel wat die populasie fluktuasie van die plaag is en waar die “hot spots” in die area is;
ii. gereelde lug- en gekoördineerde grondspatte word oor die hele teikengebied (areawye beheer) uitgevoer om die wilde populasie se getalle af te bring;
iii. alternatiewe gashere word uitgeroei of minstens baie goed bestuur;
iv. doeltreffende boord/wingerd sanitasie word deur produsente toegepas; en
v. steriele Medvlieg mannetjies word in die teikengebied losgelaat.

5. Watter nadelige gevolge kan die teenwoordigheid van die Medvlieg in SA inhou?

Die Suid-Afrikaanse uitvoersagtevrugtebedryf is van groot ekonomiese belang vir die land. Daar word geraam dat oesverliese en beheerkoste as gevolg van vrugtevlieë in die Wes-Kaap alleen meer as R20 miljoen per jaar beloop. Verder sal die impak van ‘n kwarantynverbod op die uitvoer van Suid-Afrikaanse vrugte as gevolg van die teenwoordigheid van vrugtevlieë verwoestend wees wat betref die ekonomiese welsyn van ons plaaslike gemeenskappe en besighede wat afhanklik is van ‘n winsgewende en lewensvatbare vrugtesektor. Die skep van lae-voorkoms of vrugtevliegvrye gebiede is dus ‘n dringende noodsaaklikheid.

6. Hoekom lyk dit asof GF-120 en/of Malathion en Hymlure nie werklik effektief teen vrugtevlieë is nie?

a. Die spuittoerusting is nie gekalibreer om die regte hoeveelheid aktiewe bestanddeel per ha neer te sit nie;
b. Die gebruik van verkeerde “nozzles” lewer nie die verlangde druppelgrootte nie (1-4 mm in deursnit);
c. Beheeraksies begin te laat in die seisoen, dws al die stadiums van die Medvlieg, naamlik eiers, larwes, papies en volwasse vlieë word in groot getalle in boorde/wingerde aangetref.

7. Hoekom is ‘n winterprogram teen vrugtevlieë so uiters belangrik?

a. Wanneer boorde/wingerde hul blare verloor, migreer vrugtevlieë na huistuine, rivierlope en enige ander plek waar daar voldoende skuiling en voedsel gevind word;
b. Plant- en/of dopluise in huistuine skei heuningdou af wat ‘n goeie bron van voedsel is, terwyl voëltjiemis, wat ryk aan proteïen is, ‘n uitstekende voedingsbron is.
c. Gedurende die winter en vroeë lente moet vrugtevlieglokaas in huistuine, op plaaswerwe en by opstalle minstens elke 14 dae op warm, sonnige dae toegedien word.

8. Vir hoe lank moet ek lokaas toedien?

Lokaastoediening teen vrugtevlieë behoort dwarsdeur die jaar gedoen te word met korter intervalle (elke 7 dae) gedurende die somermaande wanneer moniteringslokvalle i) ‘n toenemende populasie aandui, en ii) minstens een maand voordat vrugte begin rypword. Maak die intervalle langer (elke 14 dae) slegs as die vrugtevliegtellings oor ‘n uitgebreide periode baie laag bly (minder as ‘n totaal van 2 vlieë per lokval oor 3 – 4 weke). Na-oes spatbehandelings van skoongeplukte boorde moet voortgesit word vir 4-6 weke of solank as wat vrugtevlieë in een of meer lokvalle gevang word.

9. Hoeveel lokvalle moet ek op my plaas hê?

Die aanbeveling is dat daar een “Yellow Delta” lokval per 2 ha uitgehang moet word.