Die geskiedenis en konsep van Steriele Insek Tegniek

Die geskiedenis van Steriele Insek Tegniek

SIT tegnologie is in die 1930s deur E.F. Knipling op die been gebring, terwyl hy met die beesmaaiervlieg, ‘n vernietegende plaag van vee in Noord-Amerika, werksaam was. Die eerste suksesvolle gebruik van SIT om beesmaaiervlieë te bekamp was in 1953 op[ die eiland van Curaçao.

Sedertdien is SIT verder verfyn en ontwikkel vir gebruik op verskeie insekplae, hoofsaaklik deur die VSA Departement van Landbou en die Voedsel- en Landbou-organisasie en Internasionale Atoom Energie Agentskap (VLO/IAEA).

SIT is ontwikkel om meer as 20 insekplae te onderdruk of uit te roei, waarvan vele vrugtevlieë en ander vrugteplaag spesies is. Daar is ten minste 15 fasiliteite in die wêreld wat Mediterreense vrugtevlieë teel, en ‘n verdere 10 of so wat ander vrugtevlieg spesies teel. Produksie van steriele papies varieër tussen 5 miljoen per week tot soveel as 5 biljoen per week, laasgenoemde by die El Pino Fasiliteit in Guatemala.

Die El Pino Medfly Teelfasiliteit in Guatemala

Die konsep van Steriele Insek Tegniek

SIT is bloot geboortebeperking vir insekte. Dit word hoofsaaklik gebruik om insekplae, gewoonlik oesplae of mens- en dier-plae te beheer of uit te roei. Die teiken-insekte word in groot getalle geteel, en die mannetjies word gesteriliseer gewoonlik deur gammabestraling. Die steriele mannetjies word weekliks in hoë getalle in die teikengebiede losgelaat, gewoonlik regdeur die jaar. Hulle paar met die wilde wyfies wat gevolglik onvrugbare eiers lê, en indien sekere ander populasie-bestuursaktiwiteite behoorlik uitgevoer word, behoort die wilde vlieg populasie vinnig te daal.
Dit is ‘n bewese tegniek wat in verskeie ander lande suksesvol toegepas word om plaagvrye gebiede of laevoorkoms gebiede te skep. Dit is ‘n ekologies versoenbare tegniek wat slegs in ‘n gebiedswye tegniek – oor groot gebiede, geïmplementeer moet word, en nie op ‘n plaas-tot-plaas grondslag nie.
SIT is bestuursintensief, vereis doeltreffende koordinering, kommunikasie, en die volle samewerking van alle produsente in ‘n SIT gebied.